Skryf is nie net vir skrywers nie. Daar is mense wat skryf ter wille van die terapeutiese waarde daarvan. Die enigste stories wat werd is om te vertel, is ook nie noodwendig fiksie nie. Memoir as genre ontsluit ’n magdom moontlikhede. Hierdie beloof om ’n prikkelende gedagtewisseling te wees: Zarine Roodt, met ’n akademiese agtergrond in die onderwerp van skryfterapie en twee memoires met ’n sterk terapeutiese inslag agter haar naam, lei die paneelgesprek met Adele Vorster, Lesedi Molefi en Lynette van Zyl. Adele het ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns en haar storie blyk uit haar openhartige debuutroman Tien voor een (2022). Lynette van Zyl is ‘n kliniese sielkundige van Bloemfontein wat tans besig is om ‘n Jungiaanse ontleder te word. Lesedi Molefi is ‘n Soweto-gebore dokumentêr- en rolprentmaker, fotograaf en teksskrywer wie se intieme memoire, Patient 12A, vertel van sy tyd in ‘n psigiatriese kliniek.
With: Adele Vorster, Lynette van Zyl, Lesedi Molefi